Nóg 'n plaasaanval in VS: Pa doodgeskiet, seun kritiek* Deur Alet van der Walt 06 November 2020 09:24 ’n Plaaswerker van Hennenman in die Vrystaat het huilend vertel hoe sy op haar werkgewer se lyk in sy plaashuis afgekom het.

Anna Bochedi het Vrydagoggend omstreeks 05:00 op Pieter Hills (56), eienaar van die plaas Zwartpan, se lyk afgekom nadat hy deur rowers doodgeskiet is. Hills se vrou, Antionette, wat in Johannesburg was, was rasend van bekommernis, omdat sy nie haar man of haar seun, Eddie, op hul selfone in die hande kon kry nie. Sy het Bochedi gevra om ondersoek te gaan instel. Bochedi het aan Netwerk24 op die toneel vertel hoe sy by die deur ingekyk het en Pieter op die vloer gesien lê het. Links sit Anna Bochedi en langs haar sit Maria Khumalo, die twee plaaswerkers wat op die moordtoneel afgekom het. Foto: Alet van der Walt Bochedi het weggehardloop en ’n ander huiswerker, Maria Khumalo, gaan kry om saam met haar by die huis in te gaan. Khumalo het op die bloedige toneel waar Eddie (26) gelê het, afgekom en sy het dadelik die ergste vermoed. Bochedi vertel Khumalo het gegil: “Boeta is dood”, voordat sy flou geword het. Eddie het egter nog geleef. Bochedi het Khumalo bygebring waarna die twee vroue hulp ontbied het. Eddie is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Eddie Hills wat kritiek beseer is in die plaasaanval. Foto: Facebook/Eddie Hills Hy kon egter nog aan die eerste mense op die toneel vertel wat die vorige aand gebeur het. Hy het by sy buurman in dié se gimnasium gaan oefen. Toe hy omstreeks 19:00 by die huis kom, was sy pa vasgebind. Die plaashuis waar die aanval gebeur het.

Die aanvallers het Eddie oorrompel waarna ’n hewige geveg in die kombuis plaasgevind het. Volgens Bochedi is die kombuis “verwoes” soos Eddie en sy aanvallers baklei het. Hy is met ’n skerp voorwerp in sy long gesteek.

Pieter HIlls is in die aanval op die plaas Zwartpan doodgeskiet. Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het bevestig Hills is in sy kop geskiet. Die aanvallers het volgens Thakeng twee of drie vuurwapens uit die kluis gebuit. Dit is nie seker of Hills met een van sy eie vuurwapens doodgeskiet is nie. Die polisie, boere en sekerheidswagte is tans besig om die toneel te fynkam. Die polisie, boere en veiligheidsdienste het die toneel Vrydagoggend gefynkam. Foto: Alet van der Walt Polisievoertuie op die misdaadtoneel.

Polisiehonde is ingespan in die soektog na die verdagtes. Dit lyk of daar minstens vyf stelle voetspore is. Foto: Alet van der Walt Die aanvallers het nie voertuie gesteel nie en is by die grondpad teen die plaaswerf opgelaai. Dit lyk of daar minstens vyf stelle voetspore is.

Dit is die derde plaasmoord in die Vrystaat in net meer as ’n maand.

Dit volg op die moord op Brendin Horner (22) van Paul Roux en Dave Wessels, die oudsoldaat wat op sy plaas buite Viljoenskroon vermoor is. Wessels word Vrydag begrawe.